LIGGAAM VAN CHRISTUS

LIGGAAM VAN CHRISTUS. Die uitdrukking “liggaam van Christus” is ’n meta­foor* vir die kerk*. Hiervan lees ons onder andere in Paulus* se briewe aan die Romeine* en Korintiërs*. Die oorsprong van hierdie metafoor lê by Paulus se siening van die nagmaal*. In die nagmaal word in herinnering geroep dat Christus* se liggaam gebreek is – ’n gebeurtenis waar­deur gelowiges deel aan die verlossing deur Christus gekry het. Die beeld van die kerk as liggaam van Christus het veral twee betekenisse. Enersyds, die gelowiges se verbondenheid aan Christus en, andersyds, die gelowiges se verbondenheid aan mekaar. Hiermee word die korporatiewe karakter van die kerk beklemtoon. Die beeld van die liggaam dui op die eenheidskarakter van die kerk, terwyl die ledemate binne die liggaam aandag vra vir die verskeidenheid van gawes binne die kerk. Binne die konteks van die eenheidskarakter van die kerk, word die kerk opgeroep om een in geloof*, gesindheid, oortuiging en daad te wees. Soos ’n liggaam nie sinvol kan funksioneer as dit nie as ’n eenheid funksioneer nie, net so word die kerk ás kerk ondermyn indien daar nie ’n eenheidsgesindheid is nie.

Hierdie eenheid het te maak met die eenheid van leer en die eenheid van gelowiges. So verdedig Paulus die evangelie* (leer*) in 1 Kor 1:18-31 en wys hy daarop dat sommige vir hom kies en ander vir Apollos* (1 Kor 3:4 en volgende verse). Die klem val deurgaans daarop dat dit Christus en die ware leer oor Hóm is wat verkondig moet word.

’n Voorbeeld van die eenheid van gelowiges, is dat Jood* én Griek deel het aan die een liggaam van Christus (Gal 3:28), terwyl die verskillende ledemate van die liggaam verskillende funksies het – gelowiges het verskillende gawes ontvang om diensbaar te wees (Rom 12:4 en volgende verse en 1 Kor 12:12 en volgende verse). En net soos die verskillende ledemate ’n eenheids­karakter in die een liggaam vind, net so dra die verskeidenheid van gawes by tot die funksionering van die hele liggaam.

 

Sidebar