LIGGAAM

LIGGAAM. Die Griekse* term soma speel veral in Paulus* se briewe ’n belangrike rol. Hy gebruik soma meer as 50 maal vir wat ons normaalweg onder ’n mens* se “liggaam” verstaan (bv 1 Kor 5:3; 2 Kor 4:10; Gal 6:17). Wat gelowiges* met hulle liggaam doen, is van groot belang. Hulle behoort hulle bv van losbandige seksuele* verhoudings te weerhou (1 Kor 6:13-15). Soms word “liggaam” so hoog aangeslaan dat Paulus dit as ’n sino­niem vir “’n mens self” gebruik, bv waar Paulus gelowiges* vermaan om hulle liggame – dus hulleself in hulle konkrete liggaamlikheid – as lewende en heilige* offers* aan God te offer (Rom 12:1). Wanneer Paulus van die opstanding* uit die dood* praat, bedoel hy nie die siel* se verlossing uit die liggaam nie, maar dat ’n “geestelike liggaam” (1 Kor 15:44) opge­wek sal word. (Kyk ook: Liggaamlik­heid.)

Paulus gebruik “liggaam” op ’n tweede belangrike manier, as ’n metafoor* vir die kerk* (1 Kor 12; Rom 12; Ef 3 en Kol 2). Hy beklemtoon dat die kerk die verskillende gawes en funksies van afsonderlike lidmate* moet respekteer en dat lidmate van die kerk soos ledemate van die liggaam moet saamwerk. (Kyk ook: Liggaam van Chris­tus; Tempel van die Heilige Gees; Seksualiteit.)

Vir verdere lees: H Ridderbos 1966. Paulus: Ontwerp van zijn theologie. Kam­pen: Kok. JDG Dunn 1998. The Theology of Paul the Apostle. Grand Rapids: Eerdmans.

 

Sidebar