LIGGAAMLIKHEID

LIGGAAMLIKHEID. Die Westers-Chris­te­like verstaan van liggaamlikheid is beïnvloed deur Plato (427–347 vC) (Kyk by: Platonisme) se beskouing van die liggaam. Volgens hom bestaan die mens hoofsaaklik uit twee dele: ’n onsterf­like siel* en ’n (minderwaardige) sterflike liggaam*. Die liggaam wat stoflik is, is ’n groot hindernis vir die siel wat sy oorsprong in die geestelike wêreld het omdat dit die siel na die aarde en aardse dinge toe trek. Daarom streef die siel na suiwer vergeesteliking wat uiteindelik net deur sy skeiding van die liggaam kan geskied. Die dood* is die beslissende, verlossende ge­beure wanneer die onsterflike siel bevry word van die liggaam en na die suiwer geestelike wêreld terugkeer.

Hierdie dualistiese mensbeskouing waar­­vol­gens die mens in vaste dele onder­verdeel en liggaamlikheid onderwaardeer word, is vreemd aan die Bybel*. Die Bybel teken die mens as ’n eenheid wat met behulp van begrippe soos siel, liggaam, verstand, hart, niere, gees, ens van verskillende kante bekyk word. Die gedagte dat die liggaam ’n minderwaardige deel en by uitstek die setel van sondige drifte en drange is, moet daarom afgewys word. Ons liggaam (sekerlik die hele mens, wat ons liggaam insluit) is deel van Christus* en ’n tempel van die Gees* (vgl 1 Kor 6:12-20). (Kyk ook: Tempel van die Heilige Gees.)

Vir verdere lees: JJF Durand 1982. Skepping, mens, voorsienigheid: Wegwy­sers in die dogmatiek. Pretoria: NGKB. JA Heyns 1978. Dogmatiek. Pretoria: NGKB. A König 1993. Menslike mense: Gelowig nagedink – deel 5 – oor die mens en die sonde in die praktyk. Halfweghuis: Orion.

 

Sidebar