LIGHTFOOT, ROBERT HENRY

 

LIGHTFOOT, ROBERT HENRY (1883–1953), was die seun van ’n Anglikaanse* priester. Hy het doseer as “Dean Ireland Professor of Exegesis and Holy Scriptures” aan die Universiteit van Oxford (1934–1949). Toe daar in Brittanje nog weinig kennis van die vormhistoriese benadering van die Evangelies* was, studeer hy Duits en raak vertroud met die werk van E Lohmeyer wat vormgeskiedenis ook op die briewe van Paulus* toegepas het. Terwyl meeste navorsers nog die Markus*-Evan­gelie as suiwer geskiedenis beskou het, het hy die rol van teologie* in die Evangelies benadruk. As voorloper in Brittanje van wat later as “Redaksiegeskiedenis” bekend sou word, erken hy teologiese en literêre tendense wat veral met plekke en plekname in die Evangelies saamhang. Hy meen dat in Markus Galilea* die terrein is waar God werk en verlos, terwyl Judea* staan vir teenstand teen Jesus*, haat en verwerping. In die Johannes*-Evangelie is die rolle byna omgekeerd aangesien die verlossing in Jerusalem* bewerk word. Hier word die Jode* se ongeloof geopenbaar, maar ook die dissipels* se groeiende geloof*. In die Johannes-Evangelie is Judea (en nie Galilea nie) Jesus se terrein. Hoewel van Lightfoot se uitlatings die indruk wek dat hy net so skepties as Bultmann* is oor wat ons van die historiese Jesus kan weet, is so ’n sie­ning nie geregverdig nie. Veral in Oxford bou verskeie navorsers op sy werk voort. Hulle soek steeds ágter die tradisie van die Vroeë Kerk* na wat aanleiding gegee het tot daardie tradisie. Lightfoot was ook redakteur van die invloedryke Journal of Theolo­gical Studies (1941–1953).

Sidebar