LIGSTRAAL, DIE

LIGSTRAAL, DIE. Twintig jaar vóór die vier provinsiale sinodes van die NG Kerk in Afrika* in 1963 verenig het, het hulle al een amptelike blad gehad.

Die NG Sendingkerk (later NG Kerk in Afrika) van die Vrystaat het reeds in 1915 Die Fakkel (Serumula) uitgegee. Ná ’n sukkelbestaan, het dr BJ Odendaal in 1937 redakteur geword, en sy broer, dr AA Odendaal, het in 1939 redakteur van die NG Sendingkerk (later NG Kerk in Afrika) van Transvaal se maandblad, Lenqosa (Die Boodskapper) geword. Hulle het besluit om kragte saam te snoer en só is Die Ligstraal (Lehlasedi in Sesotho, Umsebe in Zoeloe en Umtha in Xhosa), gebore. Die Transvaalse Garage-Boodskapper en die Kaapse Bemoe­diger is ook by Die Ligstraal ingelyf. ’n Tyd lank het dit so goed gegaan dat daar ’n Sesotho- en Nguni-uitgawe was.

Teen die laat 1980’s het die blad met aktualiteit gesukkel. Herhaalde pleidooie wou dat dit afgeskaf word, maar verskillende sinodes* het daartéén besluit. Tydens vereniging met die NG Sendingkerk* was ’n blad naas Die Ligstraal in omloop, gefinansier met buitelandse geld. Sommige wou dat dít die amptelike blad van die nuwe Verenigende Gereformeerde Kerk* word. Uiteindelik is Die Ligstraal egter verenig en ingelyf by Die Ligdraer* van die voormalige NG Sendingkerk, en het tot 1998 as so­da­nig voortbestaan.

Sidebar