LIMA-LITURGIE

LIMA-LITURGIE. Met die opkoms van die ekumeniese* beweging in die 20ste eeu het daar toenemend die behoefte ontstaan aan riglyne vir eredienste* waar mense uit verskillende tradisies saamkom vir aanbidding. Veral die Faith and Order-kommissie van die Wêreldraad van Kerke* het hieraan aandag gegee en het as vrug van jare se werk in 1982 die sg Lima-liturgie ontwikkel vir ekumeniese byeenkomste waarby ook die nagmaal* gebruik word. Max Thurion van die Taizé-gemeenskap* het hierin ’n groot rol gespeel. Die liturgie* is by die kommissie se vergadering in Lima, Peru, goedgekeur en is op 15 Januarie 1982 die eerste keer gebruik toe J Robert Wright, ’n episkopaalse* priester*2, die diens gelei het.

’n Ekumeniese liturgie, soos die Lima-liturgie, moet uiteraard rekening hou met teologiese* en liturgiese verskille tussen die deelnemers aan so ’n erediens. Veral die viering van die nagmaal kan problematies wees, aangesien sekere kerke strukturele eenheid as voorwaarde vir gesamentlike nagmaalviering beskou. Dit is ook belang­rik dat daar in die keuse van liedere rekening gehou word met die musikale tradisie van verskillende kerke.

Vir verdere lees: http://www.wcc-coe. org/wcc/what/faith/lima-e.html

 

Sidebar