LIMBO

LIMBO, soos in die Katolieke Kerk* gebruik, dui óf op die plek waarheen vroeggestorwe ongedoopte kindertjies gaan (limbus infantium) óf  die plek waarheen regverdiges vóór die wederkoms* van Christus* gaan (limbus patrum). Dit kom van die woord limbus, “grens” of “kant”, en dui daarop om op die grens van die hemel* of die hel* te wees. Die idee van limbo dateer uit die Middeleeue toe Katolieke teoloë gemeen het dat daar ’n plek moet wees waar verlostes in “natuurlike blydskap” sal bly tot by die wederkoms. Die­gene “in limbo” kan, volgens hierdie opvatting, eers by die wederkoms in die hemel self ingaan. Dié siening het met die Tweede Vatikaanse Konsilie* in die 1960’s verander toe die Katolieke Kerk die standpunt begin inneem het dat almal, gedoop of nie, gered sou kon word vanweë die misterie van Jesus* se reddingskrag. In 2006 het pous Benediktus XVI* besluite van ’n teologiese kommissie onderskryf dat kinders wat sterf, kan staat maak op die “universele saligmaking van God” en die “middelaarskap van Christus”, of hulle gedoop is of nie. Daar is bevind dat God wil hê dat almal gered moet word, en dat ongedoopte kinders wat sterf, toevertrou word aan ’n genadige God Wie se weë om redding te verseker, nie geken kan word nie.

Sidebar