LINDE, ENGELA ELIZABETH HELENA (GEBORE VAN ROOYEN)

LINDE, ENGELA ELIZABETH HELENA (GEBORE VAN ROOYEN) (1939–) is bekend as letterkundige, verhaalredakteur en veral as skrywer. Sy skryf onder die name Engela van Rooyen, Engela Linde, Louisa du Toit en Barend Bornman. Haar liefdesverhale, jeugverhale en kontreikuns het haar ’n bekende naam gemaak lank voordat haar meesterwerk – en ook haar honderdste boek – Vuur op die horison in 1999 verskyn het. Dié verhaal handel hoofsaaklik oor die Anglo-Boereoorlog* en is ’n groots-opgesette familieverhaal. Dit beeld die trauma uit van ’n klein volk wat teen ’n magtige teenstander te staan kom sonder hoop op ’n oorwinning, maar met ’n vaste geloof in God en ’n verbete wil om te oorleef – en, veral, hoe die drama van gewel­dige dinge wat buite hulle beheer aan die gebeur is, op die lewe van gewone mense inspeel.

Linde is op Kakamas teen die Oranje­rivier in die distrik Kenhardt gebore. Haar voorouers was pionier-koloniste in ’n be­sproeiingsnedersetting. Sy het ’n BA en onderwysdiploma aan die Universiteit van Stellenbosch en ’n MA aan die (destydse) Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys* verwerf.

Linde het as student begin publiseer en twee van haar radiohoorspele is met pryse bekroon. Haar eerste roman was Die Wenteltrap. Haar jeugverhaal, Vuvuzela, het in 2004 die Sanlamprys (sil­wer) vir Jeugliteratuur ontvang. Sy het ook Bybelstudies vir vroue geskryf, soos Briewe vir Sanet en Kom saam Jerusalem toe, wat deur Bybelkor* gepubliseer is, en ook Bybeldagboeke.

 

Sidebar