LINDE, HANS JURIE

LINDE, HANS JURIE (1941–) is die seun van twee bekende kerkmense, ds Hannes en mev Anna Linde: hy die jarelange Son­dag­skoolsekretaris en redakteur van die destydse Die Môrelig, en sy die Ameri­kaan­se vrouepredikant wat sending*werk in Afrika kom doen het en ná haar troue haar aangenome kerk en land en volk van harte gedien het – onder meer as voorsitter van die reëlingskomitee van die Wêreldbiddag vir Vroue. Linde het in Pretoria skoolgegaan, aan die universiteite van Pretoria en Stellenbosch studeer en sy grade in teologie* en Grieks* almal met lof verwerf. Hy was die NG predikant van Riversdal en Arcadia in Pretoria. In 1975 het hy die adjunk-direkteur van Bybelkor* geword, en van 1986 tot met sy aftrede in 2005 was hy die uitvoerende direkteur. Onder sy leiding het Bybelkor verskeie verbintenisse aangegaan – onder meer met Mema* – en mettertyd het die oorkoepelende naam Bybel-Media geword. Toe Linde oorgeneem het, het Bybelkor se totale verspreidingsyfer van kursusse op sowat ’n miljoen gestaan; in sy tyd het dit meer as vervierdubbel. Linde het ’n belang­rike rol gespeel om die NG Kerk* se versplinterde mediabediening onder een dak tuis te bring, en was as uitgewer betrokke by die publikasie van die Liedboek van die kerk in 2001. Hy was ook ’n grondlêer van die Andrew Murray-prysfonds*, waarvan hy lank die sekretaris was.

Sidebar