LION-CACHET, FRANS

LION-CACHET, FRANS (1835–1899) is van Joodse* afkoms in Nederland gebore. Ná die gesin se oorkoms na die Christelike geloof*, ontvang hy sy teologiese* opleiding by die Vrye Skotse Kerk omdat hy gekant was teen die liberale opleiding by universiteite. Hy kom in 1858 na Suid-Afrika en werk op ’n tydelike basis in die gemeentes St Step­hen’s*, Kaapstad, en Ladysmith in Natal. In 1862 word hy in Kaapstad gelegitimeer* as predikant* van die NG Kerk* en aanvaar daarna die beroep na Utrecht, in daardie stadium die enigste gemeente in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) wat steeds “Neder­duitse Gereformeerde Kerk” genoem is. By die Algemene Kerkvergadering in 1865 kry hy nie bevredigende antwoorde op die vrae wie die naam van die kerk in die ZAR van “Gerefor­meer­de” na “Hervormde” verander het nie, en ook nie oor die status van die Drie Formuliere van Eenheid* nie. Van toe af begin hy om weer gemeentes van die Nederduitse Gerefor­meerde Kerk te stig. Hy skryf ’n kerkwet, reis wyd, preek boeiend en teen die einde van 1866 word die eerste “sinode” op Utrecht gehou met afgevaardigdes uit agt gemeentes. Hy is nie oral hartlik ontvang nie, is deur sommige die “oppermagtige paus” genoem en het selfs onder die sambok deurgeloop. Die NG gemeente Cachet in Primrose, Germiston, is na hom vernoem.

Vir verdere lees: WJ de Kock en DW Kruger 19862. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. deel 1. Pretoria: RGN.

 

Sidebar