LION-CACHET, JAN

LION-CACHET, JAN (1838–1912). Soos sy broer, Frans*, aanvaar hierdie seun van Joodse afkoms ook die Christelike geloof* en word vir die bediening opgelei deur die Vrye Kerk van Skotland in Amsterdam. Hy word sterk beïnvloed deur die Reveil*-beweging wat die ortodokse* teologie* handhaaf teenoor die opkomende modernisme*. Hy kom na Suid-Afrika as onderwyser, maar is ontuis in die kerklike atmosfeer in die Suide en die konflik in die Noorde. Daarom skaar hy hom as student by Dirk Postma*. Ná sy toelating as predikant* van die Gereformeerde Kerke* bedien hy die gemeentes Rustenburg, Burgersdorp, Phi­lips­town en Steynsburg. In 1894 kry hy as enigste en eerste professor die verantwoor­delikheid vir die opleiding van leraars op Burgersdorp en later op Potchefstroom. Hy publiseer wyd, soos in De Maandbode en Gedenkboek der Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika. Hy beywer hom vir Christelike onderwys op alle vlakke en vir die sen­ding*. Hy is ’n vurige ondersteuner van die Afrikaanse taalbewegings en sy prosa en poësie verskyn gereeld in Di Afrikaanse Patriot. Sy boek Sewe duiwels en wat hulle doen, beleef 14 herdrukke. In Nederland word hy met die Offisierskruis van die Orde van Oranje-Nassau vereer vir sy kerklike en volksdiens in Suid-Afrika.

Vir verdere lees: WJ de Kock en DW Kruger 19862. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. deel 1. Pretoria: RGN.

 

Sidebar