LITERATUURDIENS

LITERATUURDIENS. Die Christendom* is in ’n bepaalde sin ’n “godsdiens van die Boek”. Die beskikbaarstelling deur vertaling en verspreiding van die Bybel* in al die tale waarin mense bereik moet word, is dus ’n basiese werksaamheid van die kerk*. Die sending* het daarom altyd moeite gedoen met geletterdheidsopvoeding. Skole – aanvanklik vir geletterdheid en later vir hoër opvoeding – was deur die eeue een van die hoofbedrywighede van die praktiese sen­ding. Die noodwendige volgende vraag was: As mense kan lees, wat is daar (afgesien van Bybels en Bybelgedeeltes) vir hulle om te lees? Die Christelike literatuurdiens het gevolglik ontstaan om goeie opbouende (Christelike) leesstof te produseer en beskikbaar te stel vir die lesende publiek. Hierdie leesstof sou die evangelie* op ’n kreatiewe manier bekendstel, maar veral ook dien tot opbou van die Christen* se geestelike lewe. Dit het gelei tot ’n netwerk van skrywers, uitgewers en boekhandelaars (selfs druk­kerye) wie se bedoeling is om produkte te lewer en te bemark wat in kwaliteit nie by die algemene lektuur agterstaan nie. Baie hiervan word gedoen deur sake-onderne­mings wat op winsgrondslag produseer en bemark, maar die meeste groter kerke bedryf self hulle eie tydskrifte en gee hulle eie kerklike literatuur uit (lied- en kerkboeke, ens). Operasie Mobilisa­sie* maak van twee skepe, Doulos en Doulos2, gebruik met die oog op wêreldwye litera­tuurdiens. (Kyk ook by: Bybelgenootskappe, Bybelkor/Bybel-Media, Christelike Literatuurfonds (CLF), Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM), Lux Verbi.)

Sidebar