LITURGIE.

LITURGIE. Die woord “liturgie” is afgelei van die Griekse term leitourgia. Hiermee word die dienswerk vir die volk (leitos, laos) aangedui. Leitourgia was aanvanklik ’n polities-staatregtelike begrip (werk van die volk of in belang van die volk). Die koning* was in die antieke tyd ook ’n priester*1. Daarom het die woord ook die betekenis van ’n kultiese (Kyk by: Kultus) diens verkry.

In die Septuaginta* dui leitourgia op die tempel*diens, met die klem op die priesterlike offer*diens. In die Nuwe Testament* omvat leitourgia die Ou-Testamentiese* tempeldiens, persoonlike liefdesdiens aan men­se, diens aan Christus* en die same­koms van dissipels* om te bid.

Liturgie is die samekoms van God se volk as hoor-, leer-, genesings- en feesge­meen­skap. Liturgie beskryf die gang en wisselende orde van die handelinge in die erediens*, maar ook die handelinge self. Tydens die samekoms ontvang en vier God se volk die heil* wat Hy skenk. In die ere­diens word hierdie heil deur die geloof* ontvang en toegeëien. Hiermee word elke liturgiese daad met hoop gevul. Hierdie diens van God aan mense én mense se diens aan Hom in die erediens, inspireer mense om mekaar te begenadig en te dien in die “erediens van die lewe”.

Vir verdere lees: Taakspan vir die Erediens, NG Kerk 2010. Handleiding vit die Erediens. Wellington: Bybel-Media. Cas Wepener 2014. Van voor die wieg tot na die graf. Rituele roetemerkers vir die drumpels van die lewe. Wellington: Bybelkor.

 

Sidebar