LITURGIESE RUIMTE

LITURGIESE RUIMTE is die plek waar godsdienstige rites, rituele en simbole uitdrukking vind. Met “ruimte” word baie meer bedoel as net die kerkgebou en argitektuur. Uit die geskiedenis weet ons dat die Vroeë Kerk* dikwels in huise bymekaar gekom het. Die saambindende gedagte is die “sakrale aard” daarvan. Dit is dus ’n ruimte waar daar deur rites en simbole ’n deelname is aan die gebeure tussen God en mens, deur Christus*. Die ruimte is nie as sodanig heilig nie, maar wát daar gebeur, skenk daaraan ’n besondere karakter. In die loop van die geskiedenis is daar vele ontwikkelings binne ’n verskeidenheid tradisies, en dit dui ook op die kompleksiteit van die saak. Ons vind dikwels dat die ruimte ingedeel word in “sakrale” en “profane” sones. ’n Preekstoel, ’n doopvont en ’n nagmaaltafel het dikwels spesifieke plekke met spesifieke funksies. Binne die Christe­like geloof speel die kerkgebou en die inrig­ting daarvan met aspekte soos argitektuur, simboliek en estetiese atmosfeer ’n besondere rol. Hierdie geboude ruimtes staan ook vir die identiteit van ’n godsdiens*. Die mens se historiese bewussyn en behoefte aan lokaliteit wek ’n besondere belangstel­ling in liturgiese ruimtes.

Vir verdere lees: AC Barnard 1981. Die Erediens. Pretoria: NGKB.

Sidebar