LOEDOLFF, HUGO HENDRIK

LOEDOLFF, HUGO HENDRIK (1804–1864) was ’n gesiene inwoner, wets- en boe­delagent van Malmesbury, maar ook om­strede ouderling* wat by die Kaapse si­node* van 1862 beswaar maak teen die sittingsreg van alle afgevaardigdes buite die destydse koloniale grense. Volgens hom kon Ordon­nansie no 7 van 1843, wat die verhouding tussen kerk* en staat* gereël het, nie van toepassing gemaak word op onafhanklike state buite die Kaapkolonie nie en daarom het gemeentes van die destydse Vrystaat, Transvaal en Natal nie sittingsreg in die Kaapse sinode gehad nie. Toe die vergadering egter die status quo handhaaf, wend Loe­dolff hom sonder meer tot die Hoogge­regshof, wat ’n uitspraak lewer ten gunste van hom. Afgevaardigdes van gemeentes* buite die Kaapkolonie moes daarop die saal verlaat en daarmee is die één sinodale verband van die NG Kerk* met gemeentes buite die destydse koloniale grense, eens­klaps beëindig.

Die gevolg was dat afsonderlike sinodes ontstaan het op streekgrondslag buite die Kaapkolonie. Dit sou ’n volle eeu duur voor­dat die een algemene sinodale verband, soos dit tot 1862 bestaan het, weer herstel is met die totstandkoming van die Algemene Sinode in 1962 én eers nadat die gewraakte ordonnansie by wyse van ’n private wetsontwerp deur die volksraad en senaat in 1961 herroep is.

Vir verdere lees: PB van der Watt 1973. Die Loedolff-saak en die Nederduitse Gere­formeerde Kerk (1862–1962). Kaapstad: Tafelberg.

Sidebar