LOFPRYSING

LOFPRYSING en aanbidding kan as van die sentrale momente in die charismatiese* liturgie* (erediensinkleding) gesien word. Normaalweg word ’n redelike tyd aan dié handelinge bestee. Hierna word die Woord* gewoonlik uitgelê en gekonkretiseer. Lofprysing in die charismatiese tradisie word gekenmerk deur entoesiasme, vreugde, warmte en ’n atmosfeer van lof. Lofprysing het die afgelope jare ook in die gereformeerde* liturgie ’n plek gekry.

Die erediens* is ’n “huis van lof”. Van die psalms* is voorbeelde van liturgiese tekste wat op die maat van lof gedra word. In dié verband kan na die lofpsalms 145 tot 150 verwys word. Tydens die lof aan God moet die erediensgangers bewus wees van die redes vir lof. Daar kan bv gedink word aan God as Skepper, Onderhouer en Voorsiener, en ook as Verlosser. Lof aan God staan nie los van mense se klagtes nie. Ps 13 begin met ’n klag en eindig met lof.

Die erediens kan egter nie net uit lof bestaan nie. Lof maak die deure oop na ander liturgiese handelinge soos gebed*, bely­denis*, prediking* en dank. Daar moet op die liturgiese plek en funksie van lof aan God gelet word. (Kyk ook: Lofsang.)

 

Sidebar