LOFSANG, LOOF

LOFSANG, LOOF. Lofsang is van die vroegste tye deel van indiwiduele vroom­heid* en die formele erediens*. Die bundel Psalms* in die Ou Testament* is die beste bewys hiervan. Hoewel baie van hierdie liedere ’n indiwiduele oorsprong het (bv Ps 23), lewer die formele aanbidding in die tabernakel*, en die voor- en na-ballingskapse (Kyk by: Ballingskap) tempel*diens, ’n groot by­drae tot die uitbou van Israel* se liedere­skat. Families soos die Koragiete (Kyk by: Korag) (Ps 88) het ook hiertoe bygedra. Musiekinstrumente* soos harpe, liere, trom­me, fluite en simbale sorg vir ’n feestelike karakter (Ps 150).

Oor die eredienste van die vroeë Chris­tene* is nie veel bekend nie, maar ook hier het die lofsang klaarblyklik ’n belangrike rol gespeel. Die spontane manier waarop Paulus* en Silas* teen middernag lofsange in die tronk sing (Hand 16:25), is tekenend hiervan. Ons kan aanvaar dat die Ou-Testamentiese psalms die eerste liedere van die kerk* was (vgl 1 Kor 14:26). Maar gou het suiwer Christelike liedere ontstaan (Ef 5:19; Kol 3:16-17). Sulke liedere, wat veral die lof van Christus* besing, is in die Nuwe Testament* opgeneem (Fil 2:6-11; Kol 1:15-20; 1 Tim 3:16). (Kyk ook: Lofprysing.)

 

Sidebar