LOGOS

LOGOS is ’n Griekse* woord wat gewoonlik “woord” beteken. Logos kry ’n besondere betekenis in Johannes*2 se Evangelie*. Dit verwys óf na die boodskap van God in die Ou Testament* (5:38; 8:55; 10:35) óf na die boodskap wat Jesus* self bring (8:31, 37, 43, 51; 17:6). Verder stel Johannes Jesus en sy woorde gelyk (12:48).

Maar dan gebruik hy logos ook ses keer vir Jesus self (Joh 1:1, 2, 14; 1 Joh 1:1; Op 19:13). Uit Joh 1 is dit duidelik dat Johannes op die “woord” by die skepping sinspeel. Daar lees ons dat God lig net deur ’n bevel (’n woord) skep. En nou bring Johannes vir Jesus met hierdie “woord” in verband (1:3). Dit beteken dat Jesus vóór sy geboorte as mens, ten volle by die skepping betrokke was. Hier word beklemtoon dat Hy self ook God is. Dit beteken dat ons skepping en ons verlossing op ’n unieke manier aan mekaar verbind is: ons Verlosser is ook ons Skepper.

Die woorde van Johannes bied sterk ge­tuienis vir die Godheid van Jesus: “Hy was by God, en Hy was self ook God.” Die kerk probeer hieraan uitdrukking gee deur te bely dat Vader* en Seun* (én die Gees*) verskillende Persone is, maar saam een en dieselfde Goddelike Wese (Drie-eenheid*). (Kyk ook: Woord.)

Sidebar