LOMBARDUS, PETRUS

LOMBARDUS, PETRUS (circa 1095–1160) is in haglike omstandighede naby No­vara in Italië gebore. Ná sy aanvanklike opleiding by die plaaslike katedraalskole, is hy deur die biskop* na Reims en Parys ge­stuur vir verdere studie onder Abelardus*. Teen 1145 het hy professor by die katedraalskool van Notre Dame in Parys geword. In 1159 is hy as biskop* van Parys aangewys.

Lombardus is veral bekend vir sy vier­delige Sententiarum libri quatuor (“Vier boeke met sinne”). Dit is ’n kompilasie van al die gesaghebbende bronne tot in daardie stadium (bv die Bybel*, die apostoliese vaders*, Augustinus*), en behandel aspekte van die Christelike geloofsleer (Kyk by: Leer). Die eerste boek handel oor die Drie-eenheid*, Boek 2 oor die skepping*, Boek 3 oor Jesus*, die Redder van die gevalle skepping, en die laaste deel oor die sakramente en die genade in Christus*.

Hierdie werk was die standaard-teologiese bron gedurende die Middeleeue. Daar word beweer dat dit die werk is, naas die Bybel, waaroor die meeste kommentare ge­skryf is. Luther* het ook aantekeninge daar­oor gemaak.

Lombardus het die aantal sakramente* in die Katolieke Kerk* op sewe – die volmaakte getal – vasgestel. In sy tyd het die aantal sakramente van twee tot twaalf gewissel.

Sidebar