LONDENSE SENDINGGENOOTSKAP

LONDENSE SENDINGGENOOTSKAP. ’n Enorme vrywillige organisasie is in 1795 gestig toe leiers van die Onaf­hanklike Kerke met Anglikane* en Presbiteriane* saamgespan het om ’n sendinggenootskap te stig met die oogmerk om “die heerlike evangelie* van die heilige God aan die heidene*” te bevorder. Dit het denominasiona­lisme (in die sin dat voorkeur aan ’n bepaalde kerklike tradisie gegee word) verwerp ten gunste van ’n beleid dat bekeerdes sélf die bestuursvorm kan kies “wat vir hulle lyk die meeste ooreenkom met die Woord van God”. In 1818 het die naam die London Missionary Society (LMS) geword. Baie van die LMS se eerste sen­delinge* het van die Europese vasteland of Skotland gekom (soos Johannes van der Kemp* en John Philip*, wat in Suid-Afrika gewerk het) en was leke of ambagsmanne (alhoewel sommiges ook akademiese werke voortgebring het). Die sendelinge moes onder toesig van ’n predikant* werk, maar die opkoms van mediese sendingaksies het dié situasie verander. Aan die begin van die 19de eeu het die LMS hulle bronne op die Stille Oseaan-gebied en Suid-Afrika gefokus. Hierdie sendinggenootskap is nóú verbonde aan die geskiedenis van die Kongrega­sionaliste*. In 1966 het die LMS en die Com­mon­wealth Missionary Society saamge­smelt en die Congregational Council for World Mission (CWM) gevorm. Die CWB soos dit tans daar uitsien, het in 1977 beslag gekry saam met die Presbyterian Board of Missions.

Sidebar