LOSBANDIGHEID

LOSBANDIGHEID in die Bybel* dui op die oortreding van die gemeenskap en samelewing se morele* of etiese norme*, en kom neer op ’n algemene wetteloosheid wat ook spesifieke sake soos dronkenskap en seksuele losbandigheid ingesluit het. In die Rabbynse tradisie (Kyk by: Rabbynse skole, en ook: Rabbi) word losbandig­heid, saam met begeerte, hoerery*, bloedskande en bestialiteit, as van die oorsake vir die sondvloed* (Gen 5:28–9:29) gesien. Die ongemak van sommige Joodse* skrifuitleggers dat Jakob* vir Ragel* met hulle eerste ontmoeting gesoen het (Gen 29:11), is om­dat dit moontlik tot losbandigheid sou kon lei. In die Grieks-Romeinse wêreld is losbandigheid – saam met dwaasheid*, onge­regtigheid* en lafhartigheid – as een van die vier kardinale ondeugde gesien. Som­mige van die Romeinse keisers*, en veral Titus, het ’n reputasie vir (onder andere) losbandigheid gehad (volgens Suetonius). Filo van Aleksandrië was bekommerd dat die bekende driejaarlikse atletiekfeeste nie alleen tot begeerte, wedywering en konflik nie, maar ook tot losbandigheid gelei het. Terwyl Paulus* se teenstanders skynbaar gewaarsku het dat redding* deur genade* alleen onvermydelik tot losbandigheid sal lei, blyk dit in Judas 4 dat dit inderdaad een van die verdraaiings van die evangelie* was. (Kyk ook: Dwaasheid.)

Sidebar