LOSPRYS

LOSPRYS. Die Ou Testament* verwys na die vrykoop van mense en diere wat as eersgeborenes* aan die Here* gewy is (Eks 13:13), of die losprys vir iemand se lewe (Eks 21:30). Mense wat as slawe* verkoop is (Lev 25:47-49) en grond wat verkoop is (Rut 4:4, 6), kon teruggekoop word. Gewoonlik is geld* gebruik, maar daar kon ook omruiling plaasvind.

Jesus* se tydgenote ken ’n losprys: geld, goeie dade, ’n goddelose wat in die plek van ’n vrome sterf. Tog kan ’n mens niks gee in ruil vir sy lewe nie (Mark 8:37), net God kan dit doen (Ps 49:8,16). Jesus gee sy lewe “as losprys vir baie mense” (Mark 10:45). Dit herinner aan die lydende Die­naar* van die Here wat sy lewe as ’n skuld­offer* gee (Jes 53:10). Jesus Christus* is die Middelaar* wat Homself as losprys vir almal gee (1 Tim 2:5-6). Tit 2:14 sê dat Jesus ons “vrykoop” (Nederlandse Bybelverta­ling), iets wat meer algemeen as “verlos” (1933/1953-Afrikaanse Vertaling) of “vrymaak” (1983-Afrikaanse Vertaling) of “los te koop” (2014-Direkte Vertaling) weerge­gee word. In 1 Kor 6:20 en 7:23 lees ons van “koop teen ’n prys”. Ons hoor nooit aan wie die prys betaal word nie, tog berus die gedagte van loskoping op die werklikheid van die vloek van die wet (Gal 3:13 en 4:5) wat Christus in ons plek gedra het.

Vir verdere lees: Bybelgenootskap van Suid-Afrika: “Loskoop” 1998. Verwy­singsbybel 1983-vertaling: Band 2, Naslaan­materiaal. Kaapstad.

 

Sidebar