LOTERY

LOTERY. Wêreldwyd is daar in kerke en onder indiwiduele gelowiges geen eenstemmigheid oor deelname aan loterye nie. Sommige kerke beskou dit as taboe, terwyl ander kerke die opbrengs van loterygeld aanwend vir die instandhouding van barm­­har­tigheidsprojekte. Die gerefor­meer­de* kerkvaders het hoofsaaklik drie argumente aangevoer waarom lotery in beginsel verkeerd is.

Eerstens is daarop gewys dat die werp van die lot ’n heilige handeling is. Wanneer mense in die Bybelse* tyd in ’n bepaalde situasie nie in staat is om tot die een of ander beslissing te kom nie, is God aangeroep voordat daartoe oorgegaan is om die lot te werp (vgl Jos 17:14; 1 Sam 14:42; Jona 1:7; Hand 1:26). Om hierdie handeling vir onbenullighede soos lotery te gebruik, sou op ’n oortreding van die derde gebod neerkom.

Tweedens is geglo dat loon direk verband hou met diens wat gelewer is. Daar is ’n korrelasie tussen arbeid en loon (1 Tim 5:18; Ef 4:28; Jak 5:4). Indertyd is geld of eiendom bekom deur harde werk of ewe­redige ruiltransaksies of as geskenk (b­v erfporsie). Omdat lotery nie hier­aan voldoen nie, is dit ’n oortreding van die agste gebod.

Derdens is lotery beskou as ’n miskenning van God se sorg vir ons daaglikse be­hoeftes. Wie aan lotery deelneem, sou dan die eerste gebod oortree deur alle hoop en verwagting van die sg geluksgodin te koester.

Met verloop van tyd het bostaande stand­punte onder druk gekom. Die Bybelse ekse­gese* wat vir dié standpunte aangevoer is, het nie meer oortuig nie. En ’n teks soos Spr 16:33 wat lui: “Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom”, bely immers juis geloof in die voorsienigheid van God.

God het ook die wêreld so geskep dat daar ’n kans-element aanwesig is. Daarom word geredeneer dat, in situasies van gelykkansigheid, loting wél aangewend kan word om tot ’n beslissing te kom (bv met ’n staking van stemme of om ’n wedstryd op die sportveld op dreef te kry).

Dit beteken egter nie dat lotery onge­kwalifiseerd goedgepraat kan word nie. Die heersende klimaat van materialisme* lei tot ’n beheptheid met besittings en geld. Die gevolg is gierigheid. Jesus* rig hieroor ’n ernstige waarskuwing (Matt 6:19, 24). Die erva­ring leer dat mense verslaaf raak aan hierdie praktyk. Daardeur word sommige mense onverantwoordelik en verkwis hulle hulle geld, dikwels tot die ernstige nadeel van afhanklikes.

’n Ander probleem het ook in die laaste jare opgeduik: ’n Deel van die inkomste uit loteryskemas word vir welsynswerk onder minder-gegoede mense beskikbaar gestel. Die vraag is: Behoort kerke hierdie geld vir barmhartigheidswerk te aanvaar? Feit is dat die barmhartigheidswerk wat kerke verrig, omvangryk is. Astronomiese begrotings moet klop. Wat is immoreel: om ’n tehuis vir verswakte bejaardes of verhongerde straatkinders te sluit en die inwoners aan hulle lot oor te laat – of om loteryfondse te aanvaar en die barmhartigheidsdienste in stand te hou? Dit is dus ’n morele probleem.

 

Sidebar