LOUBSER, JOHANNES ALBERTUS (BOBBY)

LOUBSER, JOHANNES ALBERTUS (BOBBY) (1949–2006) is op Stellenbosch gebore as die agteragterkleinkind van ds JH Neethling*, stigter van die Universiteit van Stellenbosch, en as die naamgenoot-kleinseun van een van Springbokrugby se legendariese vleuels, Bob Loubser.

Loubser het sy MA in Grieks* en sy doktorsgraad in Nuwe Testament* aan die Uni­versiteit van Stellenbosch behaal. Hy dien as predikant* in twee gemeentes* van die NG Kerk*: Brenthurst (1978) en Tamboerskloof (1982). Daarna word hy in 1990 hoogleraar in die departement van bibliologiese stu­dies aan die Universiteit van Zoeloeland, waar hy tot met sy dood aan kanker werksaam was.

Loubser was een van die aktiefste lede van die Nuwe-Testamentiese Werkgemeen­skap van Suid-Afrika en het ook gereeld deelgeneem aan die kongresse van die internasionale vakliggaam, die Society of Biblical Literature. Hy had ’n rits akade­miese publikasies op sy kerfstok, en het ook met groot sukses vir ’n populêre Christelike leserskring geskryf.

Waarskynlik die werk wat aan hom die grootste bekendheid plaaslik en internasionaal besorg het, is sy The Apartheid Bible, waarin hy die sosiale patrone waar­binne apartheid* op Bybelse* grondslag ge­reg­verdig is, blootgelê het. Postuum is sy werk oor die ontstaan van die Nuwe Testa­ment in ’n samelewing waarbinne kommunikasie eerder mondelings plaasgevind het, gepubliseer as Oral & Manuscript Culture in the Bible. Loubser was ook ’n medewer­ker van die Christelike Kernensiklopedie.

Vir verdere lees: Loubser, JA 1987. The Apartheid Bible: A Critical Review of Racial Theology in South Africa. Pinelands: Maskew Miller Longman. Loubser, JA 2007. Oral & Manuscript Culture in the Bible: Studies on the Media Texture of the New Testament – Explorative Hermeneutics. Stellenbosch: African Sun Media.

 

Sidebar