LOUW, ABRAHAM FAURE

LOUW, ABRAHAM FAURE is die naam van verskeie bekendes in die NG Kerk*.

  1. ‑Abraham Faure Louw1 (1866–1960) se bediening (1895–1946) begin op Graaff-Reinet, gevolg deur twee jaar as kapelaan onder sowat 5 000 Boere-krygsgevangenes op St Helena, hoof van die “Boeren Zending School” of Drostdy op Worcester, waar veral voormalige krygsgegevangenes vir sending*werk opgelei is (1903– 1906), weer Graaff-Reinet, toe organi­serende sendingsekretaris van die Kaapse Kerk* (1912–1917), daarna Aberdeen (1917–1920), Bloemfontein-Noord (1920–1928) en uiteindelik 18 jaar op Stellenbosch. Op sendinggebied speel hy ’n groot rol, was instrumenteel tot ’n sendingontwa­king onder krygsgevangenes op St Hele­na, verantwoordelik vir die oplei­ding van ’n groot aantal oud-krygsgevangenes as sendingwerkers, dien vir jare lank, ook as voorsitter, in die Kaapse algemene sen­dingkommissie en besoek meermale sendinggebiede in Malawi en Zimbabwe. Twee kinders word sende­linge in Malawi.
  2. ‑Abraham Faure Louw2, seun van Louw1, se hele bediening (1938–1978) vind in Zimbabwe plaas waar hy onder andere as moderator* van die Sinode van Midde-Afrika ’n leidende rol in die kerklike lewe en die Afrikaner*gemeenskap speel. Veral beywer hy hom vir die saak van skoolop­voeding en was instrumenteel in die oprigting en bestuur van die Daisyfield-kindertehuis wat mettertyd die Bothas­hof-skool geword het, vandag bekend as Eaglesvale-skool.
  3. ‑Abraham Faure Louw3, seun van Louw2, bedien eers die VGK*-gemeente Tshilid­zini en daarna die NG Gemeente Elar­dus­park.

‑   Vir verdere lees: AF Louw 1958 My eerste neëntig jaar. SomersetWes. J Louw 1963 Ds AF Louw op St Helena: Briewe en belewenisse Kaapstad: NGKU.

 

Sidebar