LOUW, ANDRIES ADRIAAN (AN­DREW)

LOUW, ANDRIES ADRIAAN (AN­DREW) is bekende name in die geskiedenis van die NG Kerk*.

  1. ‑Andries Adriaan Louw (1827–1908) was assessor (ondervoorsitter) van die eerste sinode van die NG Kerk in die Vrystaat (1865) en bedien die gemeentes Fauresmith, Murraysburg en vanaf 1882 Noorder-Paarl waar hy in 1897 emeriteer (aftree).
  2. ‑Andries Adriaan Louw (1862–1956), seun van Louw1, kon vanweë swak gesondheid nie sy studies aan die Teologiese Kweek­skool* voltooi nie. Ten spyte van aanvanklike teenkanting, ook van sy pa, vertrek hy in 1891 as eerste sendeling* na Masjo­naland waar hy saam met sewe evangeliste uit Kranspoort-gemeente (vandag VGK*) die werk begin. Hy vestig Morgen­ster*-sendingstasie en lê die grondslae vir die latere Reformed Church in Zimbab­we. In 1919 word hy as predikant* gelegitimeer (Kyk by: Legitimasie). Ná ’n bediening van 46 jaar emeriteer hy in 1937, maar bly woon tot met sy dood op Morgenster. Vir sy werk as sen­ding*leier, kerkplanter en veral as Bybel­*ver­­taler is hy op talle manier vereer. In 1954 ken die Britse Koningin die Order of the British Empire aan hom toe.
  3. ‑Andries Adriaan Louw (1895–1990), seun van Louw2, volg in sy pa se voetspore en werk vanaf 1924 tot 1947 as sendeling in Masjonaland. Sy grootste bydrae was die voltooiing van die hersiene vertaling van die Bybel* in Sjona in 1950 waarvoor hy ’n eredoktorsgraad ontvang het.

‑   Vir verdere lees: AA Louw3 1965 Andrew Louw van Morgenster. Kaapstad: NGKU.

Sidebar