LOUW, ANNA MARGARETHA

LOUW, ANNA MARGARETHA (1913–2003) is op Calvinia gebore. Haar skrywers­loopbaan – met 20 publikasies – strek oor 54 jaar. Haar werk is die verkenning van eksistensiële krisisse wat op verandering volg. Die romans Die banneling: Die lyfwag (1964) en Die groot gryse (1968) handel oor die laaste jare in die lewe van Paul Kruger*. In eersgenoemde werk word die verhaal uit die hoek van Kruger se gekwelde lyfwag vertel. Binne die relaas van menslike verbondenheid, word rekenskap geëis oor sy trou aan Kruger. In Die groot gryse aanvaar Kruger ’n voorbiddingstaak vir sy volk waarin hy die lydensweg van Christus* verpersoonlik. Hierin is hy soldaat van God, wat sy self moes aflê om naby God te kom. Louw se indrukwekkendste werk, Kroniek van Perdepoort (1975), ondersoek die lotgevalle van ’n boerefamilie wie se sukses en hoogmoed die nageslag verswak deur aktiwiteite wat die sewe doodsondes illustreer – ’n verkenning van die mens se diepste afgronde wat aansluit by Augustinus* en Tomas van Aquino* se beskouings oor goed en kwaad. Met die achronologiese struk­tuur swaai die roman weg van die tradisionele Afrikaanse prosakuns. Haar laaste romans het sterk outobiografiese trek­ke, geplaas in die konteks van politieke gebeure, waarmee sy psigologies-verkennend met die hooffigure omgaan. Louw se werk is dikwels bekroon – ook met die Hertzogprys vir prosa.

Vir verdere lees: JC Kannemeyer 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Kaap­stad: Human & Rousseau.

Sidebar