LOUW, CHRIS (“BOETMAN”)

LOUW, CHRIS (“BOETMAN”) (1953–2009) het bekendheid verwerf met sy ope brief, “Boetman is die bliksem in”, wat in 2000 in al die Afrikaanse dagblaaie gepubliseer is. Dit het een van die heftigste debatte nóg in die Afrikaanse koerante ontketen en ook in die buiteland aandag getrek. Die dramaturg Pieter Fourie het die debat in ’n soort volksteater verwerk en dit is met akklamasie by die Aardklop-kunstefees opgevoer. Louw het die brief in reaksie op prof Willem de Klerk* se boek, Afrika­ners: kroes, kras, kordaat (1999), geskryf. Hy het dit geskryf as deel van die geslag Afri­kaners* wat in daardie stadium tussen dertig en vyftig was en, het hy gesê, deur die “Ooms” – die ouer geslag, verpersoonlik deur De Klerk – om die bos gelei is en ’n vergeefse grensoorlog ge­veg het om Suid-Afrika as apartheid*staat te verdedig teen bedreigings van buite. Hy vertel in die brief van die tyd toe hy as jong pa van twee by Perskor gewerk het en De Klerk, toe redakteur van Die Transvaler, hom in die gang gegroet het met: “Dag, Boetman”. Hy het dit teen De Klerk en sy geslag wat self nooit ’n skoot in ’n oorlog geskiet het nie, maar aan apartheid in ver­ligte plooie ’n teologiese* en filosofiese on­der­bou gegee het en die Boetmanne oorlog toe gestuur het. Louw is bitter omdat sy ge­slag ook in die nuwe bedeling met regstellende aksie aan die kortste ent trek. Ook die Afrikaner­broederbond* en die Afri­kaan­se kerke loop onder Louw se skerp pen deur.

Louw, die seun en kleinseun van predi­kante van die Gereformeerde Kerke* (die “Dopperkerk”), het in 1973 by Oggendblad in Pretoria begin werk en daarna in verskillende poste by Perskor gedien. In 1986 het hy om politieke redes by Perskor bedank, en was daarna onder meer die politieke korrespondent van die Mail&Guardian. Hy was van 1995 af ’n paar jaar die uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum, die aktualiteitsprogramme van Radiosondergrense. Hy het in 2009 aan selfdood gesterf.

Vir verdere lees: Chris Louw 2001. Boet­man en die swanesang van die verligtes. Kaapstad: Human en Rousseau.

Sidebar