LOUW, DANIËL JOHANNES

LOUW, DANIËL JOHANNES (1944–). Nadat Louw in 1970–1971 as vol ingeskrewe student aan die Universiteit van Tübingen in die destydse Wes-Duitsland studeer het, word die graad DPhil in filosofie in 1972 op Stellenbosch aan hom toegeken. In 1983 behaal hy ’n DTh aan dieselfde universiteit met ’n proefskrif in die pastoraat*.

In 1972 word hy in sy eerste gemeente, NG Kerk* Wynberg, bevestig en vier jaar later aanvaar hy ’n beroep na Stellenberg. In 1978 word hy senior lektor, in 1995 professor en hoof van die departement praktiese teologie* en missiologie*, en in 2001 dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy dien in talle vakverwante komitees en verenigings, was voorsitter van die Werkgemeenskap vir Praktiese Teologie in Suid-Afrika, en word tot president van die International Academy of Practical Theology (2002–2005) verkies.

Louw beywer hom vir die ontwikkeling van ’n teologiese verstaanshorison vir ly­dens- en siekepastoraat, ontwerp huweliks- en gesinsverrykingsmodelle vir die bediening en bou die praktiese teologie uit as ’n hermeneutiese* wetenskap wat nie vasval in die teorie van die empiriese en sosiale wetenskappe nie. Hy is ’n medewerker aan die elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE).

Vir verdere lees: DJ Louw 1983. Versoe­ning in die huwelik: Riglyne vir die pastorale bediening. Durban: Butterworth. DJ Louw 1985. Sin in lyding: ’n Teologiese besinning rondom kruis en opstanding. Kaapstad: Lux Verbi. DJ Louw 1989. Gesins­verryking: Riglyne vir groei en kommunikasie. Kaapstad: Academica. DJ Louw 1999. Pastoraat as vertolking en ontmoe­ting: Teologiese ontwerp vir ’n basisteorie, antropologie, metode en terapie. Kaapstad: Lux Verbi. DJ Louw 2013 (heruitgawe). Liefde is vir altyd. Kaapstad: Lux Verbi.

Sidebar