LOUW, JOHANNES PETRUS

LOUW, JOHANNES PETRUS (1932–2011), behaal die grade BA, BA Hons, MA (alles met lof) en D Litt (Grieks*) aan die Universiteit van Pretoria (UP). Vanaf 1956 is hy lektor (Grieks) aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en vanaf 1966 professor en departementshoof. Vanaf 1972–1992 lei hy die departement Grieks aan UP.

Hy het voortgesette navorsing aan die Universiteit van Utrecht en die State University van Ohio in die 1960’s en vroeë-1970’s gedoen. Hy pas insigte van die mo­derne taalwetenskap toe op die semantiek en ontwikkel diskoersanalise van die Nuwe Testament* in die kring van die Nuwe-Testamentiese* Werkgemeenskap. Louw en Eugene Nida publiseer in 1988 die internasionaal bekende Greek-English Lexicon of the New Testament based on semantic domains. Hiervoor ontvang hy die Bill Venter-toekenning vir die beste publikasie aan Suid-Afrikaanse universiteite (1989), asook pryse van die Claude Harris Leon Foundation en Percy Fox Foundation Achieve­ment Awards (1990).

Hy was konsultant vir die Bybelge­nootskap* van Suid-Afrika vir die 1983-Afrikaanse ver­ta­ling van die Bybel* en die 1983-Ver­wy­singsbybel; het as direkteur van die Sen­trum vir Intertale-kommunikasie by UP gedien, en was betrokke by projekte van in­ter­nasionale Bybelgenootskappe.

Louw is internasionaal erken, het as gasdosent aan buitelandse universiteite opgetree en was betrokke by internasionale publikasieprojekte. Hy het eredoktorsgrade van die universiteite van Potchefstroom, Oran­je-Vrystaat en Pretoria ontvang. Sy invloed deur sy lewe en publikasies plaaslik en internasionaal op studente en Bybellesers, is haas onberekenbaar.

 

 

Sidebar