LOUW, NICOLAAS PETRUS VAN WYK

LOUW, NICOLAAS PETRUS VAN WYK (1906–1970), dalk Afrikaans se grootste digter, vermaarde dramaturg en skerpsinnige prosaïs, debuteer met Alleen­spraak, ’n bundel gedigte wat sterk binne die kader van die belydenisvers geskryf is. Trouens, die 1930’s staan bekend as die periode van die belydenisvers, veral deur die werk van Louw, sy broer WEG Louw*, en Elisabeth Eybers*. Die gedig “Grense” uit hierdie bundel het ’n soort motto geword vir die oopmaak van die teks in eerlike belydenis, en die reëls

My naakte siel wil sonder skrome

in alle eenvoud tot jou gaan

het ’n nuwe era in die Afrikaanse dig­kuns ingelei. Die Halwe Kring was ’n sterk ontwikkeling op sy voorganger en die basiese “poëtiese filosofie” van Louw het hierin sy beslag gekry: die konsep van die ewige onvoltooidheid. Hierdie tendens loop dwarsdeur Louw se werk en vind ’n hoogte­punt in sy laaste bundel, Tristia. Die halwe kring verteenwoordig ook wesenlik ’n religieuse dimensie, veral daarin dat God nooit volkome kenbaar is nie. In die grootse epog Raka word die magte van orde en primitiwiteit in ewewig geplaas. Hierdie epiese teks word beeld van die innerlike wese van die mens, die psige wat die skoonheid en rasionaliteit steeds balanseer met die primitiewe en die primordiale elemente van die gees. Die bundel Gestaltes en diere neem hierdie tema verder. Geen ander digter in Afrikaans be­woord so sterk die grondliggende religieuse basis van die magte van Goed en Kwaad, van Orde en Chaos, soos Louw nie. Uit hierdie selfde bundel kom die meesterlike gedig “Die hond van God” wat handel oor die Middeleeuse kerk en sy Inkwisisie*. Nie alleen is hierdie grootse vers ‘n genadelose ontbloting van die kerk se interne wreedheid en ingekeerdheid nie, maar dit word ontleding van die menslike psige in sy tweespalt. Louw se laaste bundel, Tristia, bekroon met die Hertzogprys, is in sekere opsigte ook sy grootste. Sy verkenning van mens en samelewing kom in reliëf soos nog nie vantevore nie en sy eie sin van gods­diens kry nuwe en duidelike gestalte. Die halwe kring-tematiek vind ’n hoogtepunt in “Ex unguine leonem” se slotstrofe:

Wat ek van mense of van God wil meen,

word in my dofheid dof.

Iets staan in sterre-en-helderte geskryf;

en ek skryf ná in stof.

Vir verdere lees: NP van Wyk Louw 1985. Versamelde Gedigte. Kaapstad: Tafelberg. NP van Wyk Louw 1986. Versamelde Prosa. Kaapstad: Tafelberg.

Sidebar