LOUW, WILLIAM EVERT GLADSTONE

LOUW, WILLIAM EVERT GLADSTONE (1913–1980) het, soos sy tydgenote NP van Wyk Louw* (sy ouer broer) en Elisabeth Eybers*, belydenisverse geskryf. As professor van Letterkunde en veral kenner van die laat 19de-eeuse Nederlandse dig­kuns, soek hy daarna om skoonheid te skep. Een van sy eerste en bekendste ge­digte is gebaseer op Jesus* se gelykenis van die verlore seun: “Ek sal opstaan en na my vader gaan; opstaan uit my vodde en my vuil.” Alhoewel die gedig op ’n ander manier as die Bybelse* verhaal vertolk kan word, bly dit wesenlik ’n gebed van terugkeer na die Goddelike.

In die latere gedig “Apocalypsis” word Johannes*, die skrywer van Openbaring*, gesien as die geliefde apostel*. Dit is ’n poëtiese waarneming en nie noodwendig teologies korrek nie. Deur al die Openba­ring-beelde wandel Christus* wat “met ’n verre glimlag … stil bly staan” en met “Sy gewonde hande … oor die afgrond, oor die tyelose strominge gebrei in seën”, onuitspreeklik tere woorde spreek. Louw se talle religieuse gedigte betrek telkens Bybelse gegewens, maar word herlei tot óf alge­mene waarhede óf persoonlike belewenis. Daar is heelparty gedigte wat spesifiek handel oor Bybelse figure, bv die twyfelfiguur van Tomas/Thomas* en sy geloofsinsig as hy die hande sien (“twee vlamme, wat rooi soos bloeisels bot”) en waar hy agter­bly met sy erkentenis en verwyt: “My Here en my God”. Daar is ook die sterk gedig oor Paulus* wat “in sy hart voel (hoe) die Heilige Gees* die krag en taal van engele ontsluit” en die gedigte oor Adam*, Simson* en Moses* wat half teensinnig sy opdrag begryp. In die reeks “Die passie van ons Heer” skryf Louw gedigte oor die “Avondmaal*”, “Getsémane” en deur die hele passie tot by “Opstanding*”. In sy digkuns is daar heelwat gebede, en in “Drieluik” skryf hy teer en gevoelig oor Johannes die Doper*, Maria* met die Kind en Johannes die apostel.

WEG Louw voer nie die stryd teen God soos NP van Wyk Louw nie. Ook bring hy egter, soos DJ Opperman*, die religieuse en die digkuns bymekaar:

Want soos God ’n baaierd, woes en leeg,

éénmaal met Sy Woord kon stol tot steen,

só ook – in al sy nietigheid – die mens.

 

Sidebar