LOVEDALE

LOVEDALE is in 1841 gestig. Vroeg in die 1830’s het die Skotse sendelinge* in die Oos-Kaap die Glasgow-sendinggenootskap gevra om ’n inrigting vir die opleiding van swart onderwysers en kategete (Sondagskoolonderwysers) op te rig. In 1839 is toestemming gegee en dr William Govan*, die eerste hoof, het in 1841 by Lovedale aangekom. Lovedale is na dr Love, die hoof van die Glasgow-sendinggenootskap, vernoem. Ná 1843 se “Great Disrup­tion” in Skotland, het Lovedale onder die Free Church of Scotland geval.

Govan was beide onderwyser en leraar en was 29 jaar lank by Lovedale. Toe Lovedale begin het, is besluit dat die inrig­ting oop sal wees vir alle kerkverbande asook vir swart en wit leerlinge. Met die opening was daar elf swart en nege wit studente. Hulle het in dieselfde klasse gesit, maar het aparte slaapkamers en eetsale gehad.

In 1867 het dr James Stewart by Lovedale aangekom en van 1870 af as hoof gedien. Met Govan het almal ’n klassieke opleiding soos in Skotland gekry, maar met Stewart is tegniese opleiding ook ingevoer. Stewart was een van die stigters van die Fort Hare-universiteit. Nog ’n bekende hoof van Lovedale was dr RWH Shepherd, van 1941 tot 1955. Hy het die 19de-eeuse geskiedenis van die inrigting geskryf.

Baie van die swart politieke en kerkleiers in Suid-Afrika en ander Afrikalande is by Lovedale opgelei.

Vir verdere lees: JW Hofmeyr en G Pillay (red) 1994. A History of Christianity in South Africa, deel 1. Pretoria: HAUM Tertiary.

Sidebar