LUBBE, WILLEM JACOBUS GER­HAR­DUS

LUBBE, WILLEM JACOBUS GER­HAR­DUS (1922–) is in die distrik Lichten­burg gebore. Hy studeer vir predikant aan die Universiteit van Pretoria waar hy sy grade en die proponentseksamen met lof slaag en kaptein is van die span van die Noordelike Universiteite teen die All Blacks van 1949. Saam met sy studie is hy ook dosent in Latyn. Hy behaal MA in Grieks* en Latyn (met lof), en slaag die doktorale eksamen met Latyn as hoofvak in Leiden, Nederland. Van 1960 af is hy predikant* van die NG Kerk* in Natal. Hier dien hy in verskillende sinodale kommissies en in 1965 as moderator*. In 1967 word hy redakteur van Die Kerkbode* en sorg vir vernuwing en aktualisering van die blad. Hy spreek in hoofartikels bedenkinge uit oor die “ver­ligte” rigting van die destydse regering van mnr BJ Vorster*. Aan die einde van 1970 lê hy die Kerkbode-pos onverwags neer om redakteur van Die Afrikaner te word. Vanaf 1972 tot met sy aftrede in Mei 1987 het hy weer ’n dosentskap (sedert 1974 as professor) in Klassieke Tale aan Unisa beklee.

In 1987 het Lubbe die deurslaggewende leiding geneem toe die Afrikaanse Prote­stantse Kerk (AP Kerk)* gestig is. Dit het gevolg nadat die Algemene Sinode van die NG Kerk in 1986 die beleidstuk Kerk en samelewing aanvaar het. Na die oordeel van Lubbe en sy medestanders is hiermee onder meer fundamenteel wegbeweeg van die beginsel dat elke volk sy eie kerk sal hê waarin sy eie kultuur* gehandhaaf word. Lubbe was vir die eerste ses sinodes* van die AP Kerk die voorsitter en het leiding geneem op baie terreine van die kerklike lewe. Hy was ook die eerste redakteur van die kerk se amptelike blad, Die Bood­skap­per*.

Vir verdere lees: CI van Heerden (red) 1992. Kerklike skeurmaker of profeet? Bun­del ter huldiging van prof dr WJG Lubbe. Pretoria: Die Publikasiekomitee, AP Kerk, Pretoria.

 

Sidebar