LÜCKHOFF, AUGUST DANIËL

LÜCKHOFF, AUGUST DANIËL (1874–1963) bekwaam hom eers as onderwyser voordat hy in 1900 op Stellenbosch gelegi­timer (Kyk by: Legitimasie) word as predikant*. Hy bedien Cale­don en Darling, maar dit is as die eerste armesorgsekretaris vanaf 1916 tot met sy aftrede in 1943 dat hy baanbrekerswerk verrig vir die minderbevoorregte kind én op baie ander barmhartigheidsterreine. Uit erkenning is hy in 1945 deur die Universi­teit van Stellenbosch vereer met ’n eredoktorsgraad in die opvoedkunde. Sy kennis word meermale benut: In opdrag van die owerheid ondersoek hy die lewenstoestan­de van boswerkers in die Suid-Kaap (1911); hy verteenwoordig die Noordweste in die Kaapse Provinsiale Raad (1921–1925); en is ’n gas van die Carnegie-stigting in Amerika (1930).

Verder organiseer hy ’n fonds vir slagoffers van die griepepidemie (1918); is die vader van ’n stelsel van koshuise vir minderbevoorregte kinders van die Noord­weste en elders in die Kaapkolonie (170 in totaal en wat huisvesting aan bykans 8 000 kinders gebied het); ten tye van die droog­te rondom die 1930’s loods hy ’n reuse noodlenigingskema vir boere in 21 distrikte; en ná ’n besoek aan Argentinië neem hy die leiding met die repatriasie en aanvanklike versorging van sowat 450 Afrikaners.

Vir verdere lees: AP Smit 1981. “Lückhoff, August Daniël”, Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek IV, Pretoria: RGN.

 

Sidebar