LUKAS (BYBELBOEK)

LUKAS (BYBELBOEK). Lukas-Hande­linge*, wat ’n kwart van die Nuwe Testa­ment* uitmaak, is duidelik ’n literêre eenheid. In Hand 1:1 word terugverwys na die “eerste boek” (Lukas-Evangelie). Beide boeke is waarskynlik deur Lukas*, mede­werker van Paulus*, geskryf, opgedra aan Teofilus*, en deur hom gerig aan ’n onbe­kende, maar wyer Christelike gehoor met ’n sterk nie-Joodse agtergrond. Die ont­staan­s­tyd is waarskynlik ná 70 nC.

Lukas is die kerk* se eerste historikus. Die voorwoord (1:1-4) sê duidelik dat hy outentieke bronne geraadpleeg het, en die gebeure “stap vir stap, van voor af, nou­­keurig, en in die regte volgorde” wil neerskryf sodat die leser oor betroubare inlig­ting kan beskik. Antieke geskiedskrywing wil egter nie bloot feite weergee nie, maar belig veral die geskiedenis uit ’n bepaalde perspektief. Geskiedenis en interpretasie gaan hand aan hand.

Die doel van Lukas-Handelinge is om die lesers te versterk in hulle oortuiging dat God in Christus* ’n universele verlossingsplan het, en om hulle op te roep tot volgehoue geloofsvolharding (Kyk by: Geloofsekerheid) en getuienis* in diens* van God se koninkryk*. Lukas lê daarom klem op God as Verlosser (1:47) wat sy Goddelike plan bemiddel deur verskillende instrumente, soos die regte verstaan van die Skrifte*, hemelse boodskappers, die Heilige Gees*, en sy bestiering van gebeure. Die begrip “moet” (Grieks*: dei) is belangrik om die noodwendigheid van die Goddelike plan te onderstreep (bv 13:33; 17:25; 24:7), ’n plan wat by uitstek uitgevoer word deur die Geesvervulde bedizening* van Jesus*.

Die verhaal verloop soos volg. Die voorwoord (1:1-4) handel oor die betroubaar­heid van die gegewens. 1:5–2:52 beskryf Jesus se kinderjare. Dit beklemtoon die God­delike inisiatief, die ooreenkomste tussen Jesus en Johannes die Doper*, en Jesus se identiteit as Seun van God. In 3:1–4:13 kry ons die voorbereiding vir Jesus se bediening. Jesus se identiteit word “bewys” deur sy doop*, sy geslagsregister en die versoeking* in die woestyn. Jesus se bedizening* in Galilea* kom in 4:14–9:50 aan die beurt. Die gebeure in Nasaret* is programmaties vir sy bediening: bevryding, die aanbreek van God se jubeljaar*. Die be­vry­ding is drieledig: van demone*, skuld* en sonde*. 9:51–19:48 bevat die sg reisverhaal: Jesus is op pad van Galilea* na Jerusalem*, sy dood is nou onafwendbaar. Die dissipels* word onderrig met gelykenisse* wat klem lê op God as genadige Vader*. 20:1–21:38 beskryf Jesus se on­der­rig in die tempel*; 22:1–23:56 Jesus se lyding* en dood; en 24:1-53 sy verhoging.

Van die prominente teologiese temas in Lukas, word die volgende uitgelig: 1. Ge­loof* en rykdom* is nie goeie bedmaats nie. Lukas het dit nie teen rykdom as so­danig nie, maar hy het dit daarteen dat ’n mens jou vertroue in rykdom stel, en nie in God nie, en so jou medemens se nood ook miskyk. 2. Israel* se plek in God se verlossing ondergaan ’n dras­tiese verandering. Hoewel die Joodse skrifgeleerdheid nie afgewys word nie, moet dit uit Christus* herinterpreteer word en in pas kom met die Goddelike bedoe­ling van die heil* in Christus wat vir alle mense geld, nie net vir die Jode* nie.

 

 

Sidebar