LUKAS (PERSOON)

LUKAS (PERSOON) word algemeen erken as die skrywer van die Lukas*-Evangelie en Handelinge*. Hoewel hierdie twee geskrifte nie hulle skrywer vermeld nie, skryf antieke manuskripte hulle so vroeg as die tweede eeu aan ene Lukas toe. Die vroeë kerkvaders* was dit hiermee eens. Hulle identifiseer almal hierdie Lukas met die Lukas van Kol 4:14, 2 Tim 4:11 en Filem 24. Hier beskryf Paulus* hom as die geliefde geneesheer en medewerker.

Die interne gegewens van Handelinge staaf die kerklike tradisie. In die sg “ons-gedeeltes” in Handelinge (bv Hand 16:10-17) verwys die skrywer na bykans al Paulus se medewer­kers in die derde persoon, maar nooit na Lukas nie. Hieruit word afgelei dat Lukas die skrywer van die ons-gedeeltes was, en dus van die hele Handelinge en die Evangelie.

Volgens die kerkvaders Hieronimus* en Eusebius* is Lukas in Antiogië* in Sirië gebore. Tydens die tweede sendingreis, waarskynlik by Troas*, sluit hy by Paulus aan, en reis meermale saam tot by Paulus se finale gevangenskap in Rome* (vgl 2 Tim 4:11). Hy het waarskynlik sy mediese kennis tot Paulus se voordeel aangewend, en het ook gepreek (Hand 16:10-13). So was hy dalk die eerste mediese sendeling*. Verder was hy vir sy tyd ’n bekwame historikus (Luk 1:1-4).

Sidebar