LULLUS, RAYMUNDUS (RAYMOND LULL)

LULLUS, RAYMUNDUS (RAYMOND LULL) (1232–1315) was een van die eerste Christelike sendelinge* onder Moesliems*. Hy is in 1232 in Majorca gebore as lid van ’n welgestelde Katolieke* familie, en het as jong man aan die hof van die koning van Aragon ’n uitspattige lewe gelei. In sy dertigs het Lullus deur verskeie visioene tot geestelike verdieping gekom en hom vir die klooster*lewe aangemeld. In hierdie tyd het hy ’n sendingroeping ontvang – spesifiek om die Moesliems in Noord-Afrika te be­reik. Nadat hy Arabies bestudeer het, het Lullus etlike sendingreise na Noord-Afrika onderneem. In 1315 het hy ’n marteldood in Tunis gesterf.

In ’n tyd toe Christene se enigste kontak met Moesliems deur kruistogte* plaasge­vind het, het Lullus ’n benadering van liefde, gebed en martelaarskap bepleit. Sy sendingbenadering was drieledig: Hy het ’n apologetiese metode ontwikkel waardeur hy op logies-filosofiese gronde wou bewys dat die Christendom* beter is as die Islam*. Tweedens was sendingopleiding vir hom belangrik. Voornemende sendelinge het by sendingkloosters diepgaande onderrig in Arabiese studies ontvang. Derdens is Lullus ’n voorbeeld van sendingywer wat ten spyte van teenkanting en vervolging (en sy eie vrese) volhard het om die evangelie* aan die Moesliems te bring.

Vir verdere lees: RA Tucker 1983. From Jerusalem to Irian Jaya. Grand Rapids: Zondervan.

Sidebar