LUTHER, MARTIN

LUTHER, MARTIN (1483–1546). Die familie Luther stam uit die boerestand in Möhra. Op 2 Julie 1505 beland Luther in ’n geweldige storm, weerlig slaan ’n boom langs hom in stukke en hy val op die grond. In doodsangs doen hy ’n belofte dat, indien hy bly leef, hy ’n monnik* sal word. Hy meld op 17 Julie 1505 by die Augustynse Eremie­ter­klooster aan. ’n Jaar later word hy deur die ab* van die klooster*, Joh von Staupitz, as priester*2 gewy. In 1508 word Luther na die Universiteit van Wittenberg verplaas, waar hy ’n studeerkamer in die toring van die klooster kry vir afsondering en studie. In die lente van 1512 promoveer hy as doktor in Godgeleerdheid en word hoog­leraar in Bybelse teologie* aan die Uni­ver­siteit van Wittenberg.

Luther beleef die hele tyd ’n stryd om vrede met God te vind. Hy sluit hom ure lank in sy toringkamer toe in onophoudelike Bybel*studie en gebed*, hy bly dae lank sonder kos om sy liggaam te louter, om so vrede met God te vind. Maar innerlike vrede bly hom heeltyd ontwyk. Selfs ’n besoek aan die Vatikaan* in Rome help niks. Hy was ongelukkiger as ooit. Toe hy daarna in 1511 sy lesings in Wittenberg hervat, behandel hy die brief van Romeine* met sy studente. Dit bring ’n keerpunt in sy lewe. Rom 1:17 gryp hom aan en hy vind vrede met God. Hy kom tot die slotsom: Sola fide, sola gratia en sola Scriptura (Kyk by: Gereformeerd). Hy word ’n moedige geloofsheld in sy stryd teen die pous* en die Katolieke Kerk*. By drie geleenthede verset hy hom in die openbaar: 1. Sy stryd teen die aflaatstelsel laat hom op 31 Oktober 1571 sy 95 stellings aan die kerkdeur van Wittenberg vasspyker. 2. Sy moedige daad toe hy op 10 Desember 1520 die pouslike banvloek in die openbaar verbrand het. 3. Die Ryksdag van Worms* op 17 September 1521 toe Luther voor die keiser sou uitgeroep het: “Hier staan ek: ek kan nie anders nie. Mag God my help. Amen.” Hierna volg Luther, bekend as Jon­ker Georg, se gedwonge verblyf in Wart­burg, sy uitgebreide korrespondensie en sy Bybelvertaling*. As leier in die Kerkher­vorming*, is daar vyf belangrike sake wat na die eeue steeds belangrik is. 1. Sy be­skouing oor die regverdigmaking*. 2. Sy leer oor die priesterskap van alle gelowiges. 3. Sy beklemtoning van Bybelvertaling. 4. Sy beskouing oor die wederkoms* van Jesus* Christus*. 5. Sy “twee ryke”-teorie: die ryk van God en die ryk van die wêreld.

Die invloed van hierdie kerkhervormer kan moeilik gemeet word. Dat Luther soms kru uitsprake gemaak het waarmee ’n mens jou nie kan vereenselwig nie – bv oor die Jode* – is waar. Dit doen egter nie af aan sy bydrae om die kerk weer op die spoor van die Woord* te gebring het nie. (Kyk ook: Lutheranisme, en: Lutherse teologie.)

Vir verdere lees: JD Douglas (red) 1974. The New International Dictionary of the Christian Church. Exeter: Paternoster Press. AG Dickens 1967. Martin Luther and the Reformation. Londen: English Universities Press. CC de Groot 1985: Martin Luther. Sy lewensgeskiedenis teen die agtergrond van sy tyd. Potchefstroom: PU vir CHO.

 

Sidebar