LUTHERANISME

LUTHERANISME is ’n bepaalde teologiese en kerklike rigting wat sy wortels te­rug­vind in die leerstellings van die Hervor­mer, Martin Luther* (1483–1546) en even­tueel uitgemond het in die totstandkoming van die Lutherse Wêreldfederasie in 1947. Dit groepeer wêreldwyd in meer as vyftig denominasies, en een uit elke 20 Christene in die wêreld bestempel hom- of haarself vandag as Lutheraans.

Op 31 Oktober 1517 het Luther sy kritiek teen die destydse Katolieke Kerk* in die vorm van 95 stellings openbaar gemaak. Dit is met hewige reaksie begroet en keiser Karel V het in 1521 met die Edik van Worms, Luther en sy volgelinge tot ketters (Kyk by: Kettery) verklaar. Eers ná die Ryksdag van Augsburg in 1530 toe Melanchton* ’n formele uiteen­setting van die Lutherse leerstellings aangebied het, het die Lutheranisme as ’n be­paalde beweging vorm begin aanneem. Dit het aanleiding gegee tot die Smalkaldiese Verdrag van 1531 toe sekere prinsdomme hulle teenoor die Katolieke magte van die keiser opgestel het. In 1577 het die Formula Concordia verskyn en saam met die Augsburgse Konfessie en die Klein Kate­gismus  van Luther (1529) (Kyk by: Groot en Klein Kategismus van Luther), word dit steeds as die dogma* van die Evangeliese Lutherse Kerk* gereken.

Die belangrikste hoekstene in die teologie* van Luther is die bekende drie sola- (alleen-) uitsprake: alleen die Skrif*, alleen genade* en alleen geloof*. Dit alles mond uit in die beginsel van alleen Christus*. Sonde* is nie soseer wat die mens doen nie, maar wat hy is. Dit maak die mens doemwaardig voor God. Alleen vanweë God se genade, gee Hy sy Seun*, en alleen deur geloof* in Hom, kry die mens verlossing. Dit is daar­om vreemde geregtigheid*. Die kruis* speel die sentrale rol in die teologie van Luther. Ander kernmomente is die enkele predestinasie*leer (wat ’n ewige verwerping deur God uitsluit), die tweenatureleer en die werklike teenwoordigheid van Christus in die nagmaal* (konsubstansiasie*). (Kyk ook: Lutherse teologie.)

Vir verdere lees: K Nürnberger 2005. Martin Luther’s Message for us Today. Pietermaritzburg: Cluster Publications; CE Braaten 1983. Principles of Lutheran Theo­logy. Philadelphia: Fortress Press.

 

Sidebar