LUTHERSE TEOLOGIE

LUTHERSE TEOLOGIE. Die deurslag­ge­wende dryfkrag agter al Martin Luther* (1483-1546) se teologiese werk, was die soeke na ’n genadige God na wie sondaars* gelei kan word vir verlossing (Kyk by: Genade en: Redding). Hierdie soteriologiese (of verlossings-) basis vorm ook die grondmotief van die Lutherse teologie*. Luther het die grondslag van sy teologie tussen Mei en November 1520 in vyf briljante verhandelings uitgewerk waarvan die indrukwekkendste een Die vryheid van ’n Christenmens is.

Luther se verstaan van verlossing ontwikkel vanuit sy diep oortuiging oor die Skrif* as die enigste gesaghebbende en be­trou­bare Woord* van God. Die Skrif alleen is die bron van alle teologie en die norm waaraan die leringe van die kerk* gemeet moet word (sola Scriptura). Die soteriologiese dinamika van die Woord is tweeledig: aan die een kant oordeel en straf die Woord (wet*), en aan die ander kant red, troos en wek die Woord geloof (evangelie*). Chris­tus* se gehoorsaamheid aan die kruis* staan in die middelpunt van hierdie spanning. (Vandaar dan ook die verwysing na Luther se teologie as “die teologie van die kruis”.)

In die Skrif ontdek ons dat Christus vol­kome gehoorsaam aan die eise van die wet is deur in die plek van die mens aan die kruis te sterf. Sodoende word die mens vrygespreek van God se oordeel oor die sonde* sodat hy/sy nou geregverdig voor God kan staan. Regverdigmaking* kom dus alleenlik deur geloof (sola fide), die middel waardeur sondaars dít wat Christus bewerk het, naamlik geregtigheid*, vergif­nis* en versoening* met God, vir hulleself toeëien. Hierdie geloof word deur die Heilige Gees* in die mens bewerk deur die aanhoor van die evangelie en die gebruik van die sakramente*. Geen bydrae en ver­dienste van die mens speel ’n rol nie. Geloof is ’n gawe wat suiwer uit genade deur God aan die mens geskenk word (sola gratia).

Vir gereformeerdes* is dit belangrik om hier daarop te let dat Luther die wet uitsluitlik in negatiewe terme verstaan: dit ontmasker en veroordeel die mens in sy sondige haglikheid. Die wet is die uiteindelike waarheid oor die mens se verlorenheid, en is op sy beste ’n “tugmeester” wat ons daarvan laat wegvlug na Christus (evangelie) toe. Binne die gereformeerde tradisie (by name Calvyn*) het die wet egter ook ’n positiewe (of sg derde) funksie, naamlik dat ons daarin die struktuur sien van God se liefdesdoel vir die skepping* en verlossing van die wêreld. Hier­die derde funksie van die wet staan dus nie téénoor die evangelie nie, maar word deur die genade die padwysers na die nu­we lewe.

Die Lutherse teologie het ook ’n eie sie­ning van die nagmaal* wat die konsub­stansiasie* genoem word. Luther het ook, soos die Katolieke*, die bediening van die sakramente tuis voorgestaan. (Kyk ook: Lutheranisme.)

Vir verdere lees: H Küng 1964 Jus­tifi­cation. Westminster: John Knox.

Sidebar