LUTHULI, ALBERT JOHN

LUTHULI, ALBERT JOHN (1898–1967), ’n Zoeloe*-kaptein, het op die Groutville-sen­dingpos in KwaZulu-Natal opgegroei en hom as onderwyser by Edendale naby Pietermaritzburg bekwaam. Luthuli was vyftien jaar lank aan die Adams-kollege (1853) verbonde en is in 1935 as stamkaptein ingehuldig. Hy was ’n oortuigde Christen*, ’n afgevaardigde na ’n internasionale sending*konferensie in Madras, en het ook ’n lesingtoer oor Chris­ten­sendingstasies in die VSA onderneem.

Luthuli is in 1951 tot president van die Natalse tak van die African National Con­gress (ANC) verkies en ’n jaar later tot nasionale president. Hy is vanweë sy politieke aktiwiteite van sy kapteinskap onthef en in 1954 ingeperk. Hy is verbied om aan openbare vergaderings deel te neem, maar is in 1956 vrygespreek op ’n aanklag van hoogverraad. Ná die verbanning van die ANC in 1960 is Luthuli steeds as nasionale leier beskou. Met die toekenning van die Nobelvredesprys in 1961 het hy internasionale bekendheid verwerf en is in 1962 as rektor van die Univer­siteit van Glasgow verkies. Luthuli het aan algemene stemreg bly glo en het gedu­rende die apartheidsera* die beperkende wet­gewing beveg. Hy was nietemin, juis ook vanweë sy Christelike oortuigings (en anders as leiers soos Oliver Thambo en Nelson Mandela*), end-uit gekant teen geweld.

Luthuli se bekende outobiografie Let my people go is in 1962 gepubliseer. Hy is in 1967 aan sy beserings dood toe hy deur ’n trein getref is.

Sidebar