LUTZ, JOHANN JACOB (JAPIE)

LUTZ, JOHANN JACOB (JAPIE) (1859–1955) is op die Amandelboom-sen­dingstasie (tans Williston) gebore. Hy het vir vyf jaar by die Rynse Sendingskool in Barmen, Duitsland, skoolgegaan en is daarna by Detmohd as kabinetmaker opgelei. Japie het by sy terugkeer die ambag op Ceres beoefen en was in ’n stadium ook bankklerk. Hy het in 1881 ’n driemansbesigheid op Olyvenhoutdrift (tans Upington) begin waar die magistraat, ene Scott, hom met ’n hoogtemeter vertroud gemaak het en ’n landmeter, JE de Villiers, met landmeterinstrumente.

Lutz is sodoende in staat gestel om eerw C Schröder by te staan met die beplanning van watervore vir besproeiingsdoeleindes langs die Oranjerivier (Gariep) vir die Koran­na-gemeente. Hy was hierna saam met Schröder onder meer betrokke by die konstruksie van watervore by Upington waar hy waardevolle ondervinding opgedoen het. Ds BPJ Marchand het in 1880’s die lot van die verarmde en grondlose wit boere en geloofsgenote raakgesien en het die Kaapse si­node* in 1897 finaal oortuig van die wenslikheid van ’n arbeidskolonie of -nedersetting. Dit het in 1898 tot die unieke besproeiingsprojek by Kakamas in die distrik Ken­hardt gelei. Die Kaapse regering het die plase Soetap en Kaka­mas hiervoor beskikbaar gestel en later ook De Neus en Hartebeestrivier. Daar kon dus reeds in 1898 ’n aanvang gemaak word met die konstruksie van die suidelike Kakamas-kanaal of “Zuidvoor”, “… tien voet wijd, en drie voet diep en 25 myl lang”. Marchand het as voorsitter van die sinodale kommissie oor arbeidskolonies van 1898 tot 1906 die oorhoofse inisiatief geneem, maar eerw Schröder en later slegs Lutz het die onmoontlike laat gebeur om dié wildernis in ’n lushof te omskep. Die veel duurder konstruksie van die noordelike kanaal en die Perde-eilandhewelstelsel is ook onder Lutz se leiding onderneem. In 1915 is ’n kanaal by Onseepkans gebou en in 1918 ’n verdere kanaal om Brakboseiland van water te voorsien. Lutz het hom hier as boer gevestig, maar nog hierna die Karos­­dam gebou en die kanaalstelsel na Renos­ter­kop uitgebrei. Hy was hierbenewens superintendent van die besproeiingsnedersetting by Koekenaap.

Die kanaalstelsels het altesaam sowat 43 km keerwalle en tonnels ingesluit en weerspieël Lutz se ingenieursvernuf én passie om die armblanke-probleem daadwerklik te bekamp. Marchand, Schröder en Lutz se pionierswerk met die nedersettings langs die grootse Garieprivier het uiteindelik sowat 150 000 morg beslaan. Die dorp Lutz­ville is na Japie Lutz vernoem.

Vir verdere lees: DJ Potgieter (red) 1970. Standard Encyclopaedia of Southern Africa (SESA), deel 7, Kaapstad.

Sidebar