LUWUM, JANANI JAKALIYA

LUWUM, JANANI JAKALIYA (1922–1977) is in Noord-Uganda gebore. In 1948 het hy as jong onderwyser gedurende die groot herlewing in Oos-Afrika tot bekering* gekom. Hy is die volgende jaar na die teologiese kollege in Buwalasi toe en is in 1955 tot Anglikaanse* diaken*2 georden. Die volgende jaar word hy ’n priester*2, in 1969 biskop* van Noord-Uganda en vyf jaar later aartsbiskop van Uganda, Rwanda, Burundi en Boga-Zaire.

Luwum was een van die leidende figure wat ernstige kritiek teen die regering van Idi Amin, wat in 1971 in Uganda aan die bewind gekom het, uitgespreek het. In 1977 het Luwum ’n protesnota by Amin laat aflewer waarin hy teen die willekeurige moorde en onverklaarde verdwyning van mense protesteer. Kort daarna is Luwum op ’n klag van hoogverraad in hegtenis ge­neem. Die volgende oggend is aangekondig dat hy “in ’n motorongeluk” omgekom het.

Die regering het later die storie verander en gesê dat hy doodgeskiet is terwyl hy sou probeer het om van sy arresteerders te ontsnap. Ná ’n paar weke is sy liggaam met talle koeëlwonde aan sy familie oorhandig.

Volgens latere getuienis het Amin self vir Luwum in die mond geskiet nadat hy geweier het om ’n skuld­erkenning te onderteken en begin het om vir Amin te bid. Luwum is langs ’n ander martelaar van Uganda, biskop Hanning­ton*, begrawe. ’n Standbeeld van Janani Luwum is in Londen in die galery van 20ste-eeuse martelaars by die Westminister Abdy se westelike deur opgerig.

Sidebar