LYDING

LYDING, in die omgangstaal, is om smart, ellende en pyn te deurstaan en te verduur. Lyding is ’n algemeen-menslike ervaring. Dit bly op stuk van sake egter iets onverstaanbaars. Selfs die Christelike geloof* maak dit nie verstaanbaar nie (Kyk by: Teodi­see). Tog is daar ’n voortdurende be­hoefte aan, en baie pogings tot, verklarings vir lyding. Dit is tipies menslik en verstaanbaar dat nagedink word oor die oorsprong en omstandighede van ’n verskynsel – en lyding raak ons almal, vandaar die soms dringende soeke na antwoorde. So sou ’n mens oor verskillende oorsake van lyding kon spekuleer. Ons kan bv dink aan die mediese, of die sosiaal-psigologiese, of maatskaplike oorsake van lyding. Elke pyn het ’n oorsaak. ’n Werklik bevredigende verklaring vir lyding bly ons egter ontglip. Dit bly ’n raaisel wat net nie inpas in een enkele verklaringsbeginsel nie. Siekte* is selde die gevolg van sonde*, lyding kan nie sonder meer aan God toegeskryf word nie. Tog bring lyding soms positiewe groei mee.

Dit is waarskynlik die beste om die Bybelse benadering te volg, wat lyding heel konkreet aan die orde stel sonder om baie te spekuleer oor lyding as verskynsel (be­halwe Job*!). Die Bybel* vertel eerder hoe Jesus* Christus* die stryd teen lyding aangeknoop het (Hy maak siekes gesond, wek dooies op, staan uiteindelik self uit die dood uit op) en handel oor die verant­woordelikheid wat ons almal teenoor lydendes het (vgl bv Jak 2:14-17). Terwyl daar nie ’n algemeen-geldende ly­dingsverklaring is nie, soek elke mens wat ly – met reg – na ’n eie sinvolle verwerking daarvan. Deur mekaar in ons lyding by te staan, kan ons mekaar wel hierin help. Die “resep” wat vir een mens werk, moet egter nie aan ander opgedwing word nie. Psalms* leer ons dat verskillende mense op verskillende maniere hulle lydingservarings verwoord. Sommige is in opstand. Ander is ongelukkig en voel verneder. Nog ander vind troos en bemoediging in God se teenwoordigheid. Dáárvoor mag ons almal vir God vra.

Sidebar