MAAGDELIKE GEBOORTE

MAAGDELIKE GEBOORTE. Volgens die oudste tekste (ongeveer 50 nC) is Jesus* uit ’n vrou* gebore (Gal 4:4), ’n Seun van Dawid*, en as Seun van God op grond van sy opstanding* met mag* beklee (Rom 1:3-4). In Mark 6:3 (wat uit ongeveer 70 nC dateer) word Jesus ’n seun van Maria* ge­noem. Kinders is in die Hebreeuse* kultuur net na die ma vernoem as ’n man meer as een vrou gehad het, as die pa nie Joods* was nie, of as die kind buite-egtelik was. Joh 8:41 suggereer die laaste, maar in Joh 6:42 word Jesus die seun van Josef* genoem.

In Luk 1:26, 34 en Matt 1:23 word Maria ’n maagd* genoem. In Matt 1:23 is maagd ’n weergawe van Jes 7:14 volgens die Septua­gin­ta*, terwyl die Hebreeuse teks “jong vrou” lui. Verder bevat Lukas* en Matteus* bepaalde elemente wat nie heeltemal geskiedkundig is nie en as ’n redaksionele beklemtoning van Ou-Testamentiese* pro­fe­sieë* gesien kan word. Daarom vermoed sommige teoloë dat die maagdelike ge­boor­te funksioneer as weerlegging van ver­dag­makings oor Jesus se afkoms.

Alle teoloë stem egter saam dat Jesus se opstanding* uit die dood in die vroegste ver­kondiging sentraal gestaan het en nie die maagdelike geboorte nie. Geloof aan die maagdelike geboorte berus op die ge­loof in Jesus as die unieke Seun van God.

 

Sidebar