MAALTYD

MAALTYD. Vir die Bybelse* mense was kos ’n gawe van Bo. Daarom bid gelowiges* in die Ons Vader*-gebed vir hulle daaglikse brood. In hierdie gesindheid is God ook by elke maaltyd vir sy gawes geprys en ge­dank. Gewone maaltye het bestaan uit brood, met miskien groente, vrugte, of ’n stukkie vis daarby. Om op vleis getrakteer te word, was iets besonders. Elke feesmaaltyd was baie spesiaal en is met blydskap en hartlike samesyn geassosieer. Geen wonder dat die komende eindtyd* as ’n vreugdevolle feesmaal uitgebeeld is nie (Jes 25:6; Matt 8:11; 22:1-14 ens). Volgens die Griekse* teks van Hand 2:46 het die eerste gemeente* hulle gemeenskaplike maaltye met “jubelende blydskap” geniet. Dit sinspeel daarop dat hierdie maaltye vir hulle ’n voorsmaak van die toekomstige vreugdefees was.

“Maaltyd van die Here” was een van die vroegste name vir die nagmaal* (1 Kor 11:20; 10:21).

Sidebar