MAARTENS, MARETHA

MAARTENS, MARETHA (1945–) is in Bloemfontein gebore en het op Jacobsdal en Petrusburg grootgeword. Sy het aan die universiteite van die Vrystaat en Stellen­bosch studeer en het ook ’n diploma in verpleging verwerf. Sy was dosent in didaktiek en opvoedingsfilosofie totdat sy en haar man, Hennie, leraarspaar van die NG ge­meentes Oos-Londen, Welkom en Noord­hoek geword het.

Maartens is bekend as skrywer van nagenoeg 100 boeke – geestelike boeke en dagboeke, romans, kortverhale, kinderboeke, tienerboeke en romans vir jong volwasse­nes. Sy was die eerste redakteur van die Christelike vrouetydskrif, Finesse. Baie van haar boeke is in Hollands, Engels en Duits vertaal. Een van haar tienerboeke, Pot vol winter, is verfilm. Sy was ook die skadu­skry­wer vir Marike de Klerk, eerste eggenote van oudpres FW de Klerk*, in Marike, ’n Reis deur somer en winter.

Maartens het verskeie toekennings ontvang, waaronder die Sanlamprys vir jeugli­teratuur, Volkskasprys vir jeugliteratuur, die Credo-toekenning, die Andrew Murray­prys* en die ATKV-prys. Inkvoël is in die White Raven-versameling opgeneem. Ter­wyl sy in haar werk aanpassings gemaak het by nuwe omstandighede, het sy tradisionele behoudende waardes bly handhaaf wat haar by meer feministies*-gesindes in onguns gebring het.

Sidebar