MACKIDD, ALEXANDER

MACKIDD, ALEXANDER (1821–1865). In 1860 is ’n konferensie op Worcester by­een­geroep om te beraadslaag oor die gees­telike nood in Suid-Afrika. Dr W Robert­son* is daarna na Europa gestuur om Skrif*­getroue predikante* en onderwysers vir die NG Kerk* te werf. Hy kry twee Nederlandse en sewe Skotse predikante, terwyl Henri Gonin van Switserland en MacKidd van Skotland hulleself aanbied vir kerkplanting onder die inheemse bevolking van die Zuid-Afrikaansche Republiek. MacKidd ar­ri­veer in 1861 in Suid-Afrika.

Volgens regulasie moes voornemende sendelinge* wag totdat ’n inheemse leier by die staatsowerheid aansoek doen om ’n sen­deling. MacKidd leer intussen Suid-Sotho. Uiteindelik kom daar ’n versoek van Michael Buys, seun van die legendariese Coenraad Buys, en hoofman oor verskeie stamme in die Soutpansberggebied. MacKidd arriveer in 1863 daar en begin dadelik met Bybel*onderrig, gereelde dienste en ’n skooltjie. Spoedig kon Buys self eenvoudige Nederlandse sinne lees. Binne ’n jaar sterf MacKidd se eggenote, Ester (gebore Bos­man). Gelukkig kom die jong Stefanus Hof­meyr* na ’n paar maande daar aan, maar in April 1865 sterf ook MacKidd. Hy was die eerste buitelandse sendeling van die Kaapse Kerk*. Volgens oorlewering was die eerste “Afrikaanse” woorde wat hy aangeleer het, die volgende: “Ek moet eers ’n bietjie daaroor bid.”

Sidebar