MAG

MAG. Volgens die Bybel* behoort alle mag aan God (Matt 6:13; 26:64). God deel hierdie mag of gesag met die mens en gee ook aan ons die vryheid om te kies hoe ons daar­mee wil omgaan. Wend ons dit aan in diens van ons medemens en tot voordeel van die skepping, of gebruik ons dit op ’n selfsugtige manier tot selfverheerliking?

God het in Christus* vir die mens kom wys hoe om mag/gesag op ’n verantwoordelike en liefdevolle manier te hanteer. Christus het met sy dood aan die kruis*, mens-ver­nederende en destruktiewe vorms van mag gebreek. En híérin moet ons Hom navolg. Waar mag in lewensverhoudings onverantwoordelik ge­bruik word – in ouer/kind-, werkgewer/werknemer-, owerheid/landsburger-verhoudings – word die mens ’n slaaf van daardie kragte* en magte* waaroor God wil hê ons moet heers.

Mag help die mens om die lewe te struktureer en te organiseer. Om nie in mag te deel nie, beteken om nie voluit te leef nie. En waar mag mísbruik word of waar sommige mense daarvan uitgesluit word, word hulle waardigheid aangetas en word diesulkes se mens-wees eintlik daardeur gedegradeer.

Die hantering van by name burgerlike mag (wat deur die staat* georganiseer en gelegitimeer word) bly egter vir die teologiese etiek* ’n kopseer, want nêrens in die Bybel* word hier­oor duidelike riglyne gegee nie. Alhoe­wel die boek Openbaring* mag baie nega­tief beskou, word die Romeinse Ryk* in Lu­kas* en Handelinge* feitlik onkrities aanvaar. Ook sê die bekende Rom 13 nie regtig iets hieroor nie. Vir lank is hierdie gedeelte gebruik om vir mense te sê dat hulle die regering van die dag moet aanvaar as deur God gegee, maar moderne eksegese* van hierdie Skrifdeel sê dat dit nie so is nie. Paulus* het volgens hierdie eksegese bloot geantwoord op ’n spesifieke vraag van die kerk in Rome* deur na die verstaan van mag soos dit aan hom bekend was, te verwys.

Huidige teologies-etiese beskouings sien die staat bloot as ’n instrument wat mens­like geregtigheid* moet vestig en uitoefen. Daar moet ruimte wees om regerings uit te stem wanneer hulle nie meer hulle doel dien nie. Mag word positief aangewend as die uitoefening daarvan grootliks strook met die verwagtings van diegene oor wie daar “geheers” word. Dit word negatief ge­bruik wanneer dit sekere vorms van dwang en manipulasie aanneem – en dit geld alle lewensverbande.

Alleen waar mag in almal se belang uitgeoefen en gekontroleer word deur legi­tieme owerhede of persone, kan dit as verantwoordelik en in ooreenstemming met Christelik-etiese vereistes beskou word.

Vir verdere lees: DJ Atkinson en DH Field 1995. New Dictionary of Christian Ethics and Pastoral Theology. Leicester, Illinois: IVP.

Sidebar